2017 Studietoerverslag Niel Viljoen Featured

Predasiespesialis, Niel Viljoen is van mening dat SA veeboere hul ewekniee in die VSA ver voor is wat die kennis en gedragspatrone van predatore aanbetref.  Viljoen het September 2017 ‘n studietoer na Amerika onderneem om sy persoonlike kennis en passie vir predatore en spesifiek predasiebestuur te verbreed.  Hier kon hy sy waarnemings vergelyk met plaaslike omstandighede. 

Volgens Viljoen is die VSA, ‘n eerstewêreldse land wat baie geld aan die nuutste tegnologie en navorsing spandeer, vele navorsingstasies het en ‘n sterk Staatsbetrokkenheid het, se veeboere steeds soekend na daardie een enkele blitsoplossing of “silver bullet”, wat nog nie bestaan nie. 

Die enigste plek waar SA dalk iets kan leer by die VSA is die tipe toerusting soos vangysters en vanghokke wat oor jare ontwikkel is vir die vang van predatore.

Die gebrek aan kennis van predatore onder boere in die VSA was opmerklik en kan die afleiding gemaak word dat die staat se betrokkenheid die bestuur van die probleem uit die hand van die boer neem .  Baie van die boere en veral die jonger geslag sien dit as die staat se verantwoordelikheid om predasiekwessies op te los.

Opleiding onder boere en veral nuwe toetreders in die kennis en gedragspatrone van predatore is essensieel in die bekamping van predasie.  In Suid Afrika is die onderskeie bedrywe wat ‘n belang by veeboerdery het, self betrokke by opleiding teenoor kontrakteurs buite die bedryf wat opleiding behartig in die VSA.  Viljoen se beskeie mening is dat die gaping van kennis tussen veeboer en predatoor geweldig vergroot met katastrofiese gevolge vir Amerika.

Predatore moet gesien en bestuur word as ‘n boerderyvertakking en moet dieselfde kundigheidsvlakke en kennis van 'n rooijakkals en rooikat as Hereford, Angus, Dorper, Merino, Angora bok en Swart Wildebees wees.  Ongelukkig gaan predatore nooit op veeplase verdwyn nie.  Bestuur hierdie vertakking van jou boerdery met dieselfde kennis, tyd en deernis as die res van boerderyvertakkings, sê Viljoen.

Vir volledige verslag, klik hier.

Last modified onMonday, 19 February 2018 13:35