BOERE...... BEWAARDERS EN HOEKSTENE VAN GESONDE BIODIVERSITEIT

Predasiespesialis Niel Viljoen het met die draai van die eeu die dertiende jaar van navorsing en studies op moniteringsplase betree. Wat oorspronklik begin het as eksperimentele plase waar roofdierbestuur en beheermetodes getoets, vergelyk en aangepas is, is hierdie plase toonbeelde van sukses wat baie meer na vore gebring het as net suksesvolle roofdierbestuur.

Hy staan verstom oor boere se integriteit, kennis en passie vir die voortbestaan van hulle bedryf; ook hulle diepe afhanklikheid van en respek vir die stuk aarde waarop hulle ’n bestaan voer. Die samewerkingsooreenkoms en verstandhouding tussen boer en Moeder Natuur is ongelooflik.

 

Biodiversiteit en ons moderne Suid-Afrikaanse boere

Seker die belangrikste doel vir die voortbestaan van alle lewe op aarde is ’n goeie engesonde biodiversiteit. Dit kan eenvoudig opgesom word as biologiese diversiteit, wat ook verskeidenheid beteken, en dit sluit alle vorme van lewe op aarde in: organismes, plante, diere; die hele spektrum van ekostelsels en ekosisteme in alle denkbare geografiese streke van ons planeet. Dit is ’n ineengeweefde, ingewikkelde wisselwerking tussen ’n verskeidenheid van spesies.

Biodiversiteit is Moeder Natuur se goed geoliede masjien om haarself te beskerm, ’n gesonde balans te handhaaf en alle versteurings in enige van haar ekostelsels so spoedig moontlik te identifiseer, te verwerk en weer te balanseer. ’n Gesonde biodiversiteit is die mensdom se kern van oorlewing. Ons daaglikse lewensnoodsaaklike bronne (voedsel, klerasie en water) is direk afhanklik van biodiversiteit. Daarom is dit so belangrik dat ons moderne produseerders (kommersiële boere) nooit biodiversiteit uit die oog mag verloor nie. Onlangse studies in Suid-Afrika het getoon dat biodiversiteit op kommersiële landbougronde baie gesonder is as in sommige van ons parke. Dis ’n pluimpie vir kommersiële produsente.

Die grootste struikelblok vir ’n gesonde biodiversiteit is ongelukkig een van die spesies wat ook deel uitmaak van hierdie totale prentjie van ons planeet: die mensdom, ek en jy.

Net meer as ’n derde van ons planeet se beskikbare grondmassa word vir kommersiële landbou gebruik. Bykans 80% van Suid-Afrika se grond is beskikbaar vir een of ander vorm van landbou. Gegewe hierdie syfers is dit duidelik watter ontsaglike groot rol landbouers speel in die handhawing van ’n goeie en gesonde biodiversiteit.

Moeder Natuur kan haar bes doen vir biodiversiteit, maar met 80% daarvan in die hande van landbouers, mag dit dalk ’n risiko wees, en sy het hulp nodig. Te danke aan mense met ’n passie, goed ingeligte en opgeleide bewaarders en boere, kry Moeder

Natuur meer as haar deel van gesonde biodiversiteit vanaf kommersiële landbou. Wat is hierdie hulpmiddel, die anker wat kommersiële boere in Suid-Afrika gebruik om biodiversiteit ’n hupstoot te gee? Die antwoord is voor-die-hand-liggend: biosekuriteit.  Wat is biosekuriteit? Dit is ’n stel voorkomende voorsorgmaatreëls wat ontwerp word om biologiese bronne te beskerm en die risiko van verspreiding van siektes en peste oor die hele landbousektor, diere, plante en ook die mens in enige vorm te voorkom.  In kort, om my en jou lewensomstandighede te beveilig, te beskerm en te verseker.  Dit is die beskerming van die totale prentjie van gesondheid.

Wat beteken dit vir die landbouer of in hierdie geval, die veeboer?

Absolute risikobeheer en -bestuur op jou plaas en jou werksomgewing. Een van die grootste bedreigings vir biosekuriteit is ongelukkig die mens self, wat in menige geval die draer en/of die verspreider van kieme, parasiete en virusse is. Vir die boer is dit sy veldskoene, voertuie en vragmotors, of die plaaslike veearts, landboukundige, bankbestuurder of buurman wat besoek aflê, wat die skuldige kan wees.

Dit is opmerklik hoe boere die afgelope paar jaar bewus geword het van die beperking en/of vermyding van vreemde bewegings op sekere dele van hulle boerdery.

  1. Elektroniese hekke beperk grotendeels ongewenste toetrede van ongemagtigde persone.
  2. By menige veekrale word ingang tot die kraal geweier en by intensiewe stelsels, soos byvoorbeeld lamhokke en voerkraalstelsels, is dit slegs die persone wat daar werk wat die perseel mag betree. Dan is die was van hande en deurloop by die voetpad ’n vereiste. Die inkoop van vee, hetsy van ander boerderye of veeveilings is seker een van die grootste risiko-areas wat biosekuriteit bedreig. Kwarantynkampe of -krale raak ’n bekende gesig op veeplase. Dit is egter nie net die mens self of sy vee wat biosekuriteit bedreig nie. Daar is nog ’n ander kommerwekkende factor wat baie min of geen aandag kry nie. Wilde trekdiere wat oor plase beweeg en moontlike draers kan wees, is ’n risikofaktor; veral bobbejane, bosvarke, vlakvarke en selfs roofdiere soos rooikatte en jakkalse. Goed geïsoleerde plaasgrense, hetsy met jakkalswerende en/of kragdrade, is ’n aanwins vir biosekuriteit. Die bedreiging vir hierdie sekuriteitsmaatreël is die vernietigende invloed wat bosvarke en vlakvarke daarop het. Die natuurlike deurvloei en selfs verskuiwing van wild bly ook ’n risiko, selfs ten opsigte van dooie diere. Professionele roofdierjagters jag op een plaas, verskuif na ’n ander plaas met die geëlimineerde roofdiere op hulle voertuig en laai dit dan op ’n ander perseel as die oorspronklike af.

Biosekuriteit is boere se verpligte aandeel tot ’n gesonder biodiversiteit, maar boere alleen is nie die enigste rolspelers wat hierdie doel moet help verseker nie. Biosekuriteit vereis ook betrokkenheid en samewerking van wetenskaplikes, beleidmakers en wetstoepassers.

Last modified onFriday, 24 July 2020 09:31